Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 21 April 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van Andre Kellerman, ZS6ABZ, verlede week en Donderdag stil geraak het.

Ons innige medelye aan Andre se familie en vriende.

(POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

WOON U DIE SARL-AJV BY? INDIEN NIE! VERSEKER N STEM EN MAGTIG IEMAND.

SARL SE ANTENNA VERDEDIGINGSPROJEK

SARL VERKRY OOK 'N LISENSIE VIR 472 kHz

AMATEURRADIO REAGEER OP TERRORISTE-AANVAL TYDENS BOSTON-MARATHON

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

WOON U DIE SARL-AJV BY? INDIEN NIE! VERSEKER N STEM EN MAGTIG IEMAND.

Die SARL se algemene jaarvergadering vind volgende naweek plaas as deel van die SARL se Nasionale Konvensie wat deur die Wes-Rand Amateurradioklub aangebied word. Dit is belangrik vir lede om dit by te woon. Die algemene jaarvergadering op Saterdag 27 April begin om 09:00. Registrasie open om 08:00. Lede wat nie die vergadering kan bywoon nie, moet nog hulle stem laat hoor en 'n 'n ander SARL-lid volmag gee om hulle te verteenwoordig en namens hulle te stem. Die volledige agenda en mosies is beskikbaar op die lede afdeling van die web. Gaan na www.sarl.org.za en kies ‘members only’ op die boonste regterkant van die tuisblad. Sleutel u PIN-kode in en volg die skakels.

'n Afskrif van die volmagvorm is ook beskikbaar op die SARL-web se tuisblad. Besprekings vir die SANSA-besoek is nou gesluit aangesien die plekke ten volle opgeneem is. Geen meer besprekings kan meer aanvaar word nie. Besprekings vir middagete en die SARL se Jaarlikse aandete kan nog tot Dinsdag 23 April 2013 gemaak word.

SARL SE ANTENNA VERDEDIGINGSPROJEK

Die SARL se regsadviseur, Johann Marais, ZS1JM, sal 'n voorlegging aanbied oor die SARL Antennaverdedigingsprojek tydens die algemene jaarvergadering van 27 April 2013. Tans staan die antennaverdedigingsfonds op R60 750. Vir besonderhede oor wie bygedra het en hoe u nog kan bydra, besoek www.amateurradio.org.za/adf.htm.

ZS1JM berig dat die span van kundiges byna hul navorsing op die tegniese en wetlike situasie aangaande antennas, en regulasies van nasionale en veral plaaslike owerhede, voltooi het.

Die navorsing sal nou fokus op die rol van amateurradio as 'n betroubare bron vir nood-kommunikasie, asook ons gemeenskapdiensrolle (kommunikasie tydens gebeurtenisse en die belangrike rol van Hamnet).

Die span is ook besig met navorsing oor wie die regte instansie is om met ons voorlegging te nader en aan te spreek ten einde die beste resultate vir alle amateurs te bereik. Soos u sal besef is dit vir ons nodig het om met die munisipaliteite, groot en klein, te werk, maar ook die nasionale owerhede oor beplanning en omgewingsake in te sluit. Op die oomblik erken net die Departement van Omgewingsake ons spesiale posisie deur die oprigting van 'n 15 meter antenna, opgerig vir 'n radioamateur, om nie onderhewig te wees aan 'n omgewingsimpakstudieproses nie.

SARL VERKRY OOK 'N LISENSIE VIR 472 kHz

Die SARL het ook ‘n lisensie vir eksperimentering op 472 kHz verkry. Die SARL het betalings gedoen vir twee 5 MHz lisensies en vir 472 kHz en verwag om die lisensies gedurende die komende week te ontvang. 'n Spesiale webafdeling word geskep vir die inligting van lede. Die finale reëlings oor hoe SARL-lede kan deelneem aan eksperimente op 5 MHz en 472 kHz sal aangekondig word tydens die algemene jaarvergadering volgende Saterdag en volgende Sondag op die web gepubliseer word.

AMATEURRADIO REAGEER OP TERRORISTE-AANVAL TYDENS BOSTON-MARATHON

Sowat 250 radioamateurs het kommunikasie vir die Boston-marathon op Maandag, 15 April verskaf toe twee bomme, wat geglo word deur terroriste geplant is, afgegaan het, drie omstanders gedood het en baie ander na plaaslike hospitale gestuur het, sommige met baie ernstige en lewensgevaarlike beserings.

Dit is 'n dag wat Paulus Topolski, W1SEX, nooit sal vergeet nie. Hy het aan Newsline gesê dat hy besig was om met die radioamateurs naby aan die eindpunt van die Boston Marathon te praat en alles het goed gegaan. En toe, was daar die eerste ontploffing.

"Ek was in die netbeheersleepwa, ongeveer 150 meter van waar die ontploffing was, en toe die tweede ontploffing afgaan het, het ons geweet dinge gaan tot stilstand gebring word. Netbeheer het onmiddellik begin om 'n teenwoordigheidsroep te doen en om uit te vind waar al ons mense is - presiese plekke en hul toestand, om seker te maak dat hulle veilig is. En toe dit geblyk het dat almal ongedeerd was, is met bedrywighede voortgegaan. In plaas van om oor die hardlopers te berig, was ons besigom met die mediese mense saam te werk wat besig was om na die slagoffers van die voorval om te sien," het Topolski gesê.

Vir meer inligting oor die kommunikasie-ondersteuning deur radioamateurs by die Boston Marathon, luister later vanoggend na die program Amateur Radio Today.

SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Registrasie is nou oop vir SA AMSAT se Ruimtesimposium wat by die Innovation Hub in Pretoria gehou sal word. Met die ruim borgskap van Telkom, sal alle persone wat die simposium bygewoon 'n CD met al die aanbiedings ontvang en deelneem aan die bywoningprystrekking. Besonderhede en inskrywingsvorms is beskikbaar op www.amsatsa.org.za.

RADIO ZS IN DIE POS EN BESKIKBAAR OP DIE WEB

Die Maart/April uitgawe is nou beskikbaar op die web en is 'n paar dae gelede gepos. In hierdie uitgawe kan jy lees oor, RaDAR en Mickey Muis, 'n reis in die verlede deur Brian Austin ex ZS6BKW, My Portable Operating Box, Satellietkommunikasie, Amateurradiohok in 'n Sak, speel met 'n Alex magnetiese lusantenna, die gebuigde Dipoo, Kinky Amateur Radio, vinnige ontplooiing van amateurradio, die Bierkanradio, Radioverkenning en die Museum.

JONG RADIOAMATEURS WORD UIGENOOI OM IN BHF & DIE SKA BELANG TE STEL

Jong radioamateurs word uitgenooi om belang te stel in BHF en hoër frekwensies insluitende die Vierkant Kilometer Opstelling (VKO). Radioamateurs het begin op die medium frekwensies met vonksenders, daarna is hulle gedwing om te skuif na die nuttelose korter golflengtes, die HF-bande, waar hulle pionierswerk met wêreldwye DX-werking via die F- en die F2-lae gedoen het en selfs die meer nuttelose "Ultra hoë frekwensies", bokant 56 MHz (5 meter), verken het.

Soos radiokommunikasie deur die jare gevorder het, is ontdek dat daar baie verskillende modusse van voortplanting beskikbaar is op BHF, UHF en SHF wat kommunikasie oor lang afstande moontlik gemaak het, insluitende DX, AMA, satelliet- en ruimtekommunikasie. Dit is 'n groot uitdaging vir die jonger geslag van die radioamateurs om die moderne wêreld van die radiokommunikasie te verken, en hul bydrae tot die radiowetenskap te maak.

Nou dat die VKO in Suid-Afrika onder konstruksie is, die instrument wat die antieke heelal deur radio kan teken, en die vinnigste en mees komplekse rekenaarstelsels in die wêreld kan gebruik, word universiteitstudente aangeraai om Sterrekunde en/of Radio-astronomie tot hul kurrikulum by te voeg. Al hierdie behoort jong radio-entoesiaste aan te moedig om te eksperimenteer op BHF, UHF en SHF en mee te help om 'n nuwe opwindende amateurradiowêreld van die toekoms te skep. Na alles was dit 'n radioamateur Grote Reber, W9GFZ, by Wheaton, Illinois, wat oorspronklik die radioruimte op BHF (160 MHz) gekarteer het en die eerste radiosterrekundige in die wêreld geword het.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot baie laag gaan wees.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 40.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan van tyd tot tyd oor dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
Van vandag – Besprekings oop vir SA AMSAT se jaarlikse ruimtesimposium in Pretoria op Saterdag 18 Mei 2012 by die Innovation Hub, besoek www.amsatsa.org.za.
21 April - ARRL Rookie Roundup.
20 April-20 Mei – Herdenkingstasie PB33BQ op die lug, besoek pa7da.jouwweb.nl/pb33q vir meer inligting.
23 April – Laaste dag om vir die SARL se middagete en jaarlikse dinee op 17 April te bespreestaan
26-27 April – SARL Nasionale Konvensie, registreer nou, besonderhede verkrygbaar van on www.sarl.org.za.
15/16 Junie – Eerste naweek van die Internasionale Museumnaweke se geleentheidsnaweke, registreer jou museumsatasie by www.ukradioamateur.co.uk/imw.
22/23 Junie – Tweede naweek van die Internasionale Museumnaweke se geleentheidsnaweke.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 025 en 17 570 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies word gedoen op senders wat deur Sentech beskikbaar gestel word.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vertalings deur Martin Schwella, ZS4MS en saamgestel, en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003